Bonné wil net bewaar

Oorspronklik verskyn in Vrouekeur op 18 Januarie 2013.

Bonne harties 1

Bonné de Bod is ’n TV-aanbieder en ywerige kampvegter vir die natuur.

Bonné daag so vars en onopgesmuk soos “die meisie langsaan” vir die onderhoud op. Sy dra ’n denim, maar die perfekte ligte grimering, wilgerlatlyfie en bos donker hare verklap haar model­ en sepie-agtergrond. Bonné de Bod is ’n veldaanbieder, teksnavorser en soms insetselregisseur by die TV­natuurprogram 50|50. “Ek het ná skool BCom bedryfsielkunde by Tukkies gaanstudeer. Ek wou graag ’n graad hê. Hierna het ek my tas vir ’n tweejaardramadiploma in die Kaap gepak.”

Bonné, haar naam is van haar ouma Bonita s’n afgelei, het in die Kaap aan ’n modelkompetisie deelgeneem toe ’n modelagentskap haar nader. Haar eerste inkomste as model was toe ’n foto van haar oog in ’n tydskrif verskyn het! “Die modelwerk wat ek op 22 begin doen het, het ’n goeie inkomste vir my dramastudies beteken. Dit het my glad nie as mens aangevul nie, want dit is baie oppervlakkig. Dis scary om te sien wat in van die modelkringe gebeur. Ek is dankbaar ek was al ouer, want as jy nie volwasse genoeg is nie, sal jy daardeur ingesuig word.”

Bonné het al in verskeie TV­advertensies verskyn en mense onthou haar dalk ook nog as Lizanne Vermaak, die “biker chick” wat gesellighede in die sepie Villa Rosa gereël het. “Dit was my eerste deurbraak en ongelooflik lekker!” vertel sy van dié ervaring. Bonné sê sy het veral baie by die legendariese Milla Louw, wat onlangs oorlede is, geleer. “Sy het ’n groot invloed gehad op wie en wat ek vandag is en het ’n baie groot aandeel in my dramaopleiding gehad.”

Hierna het Bonné ’n draai by 7de Laan gemaak om die “boereworskompetisie” te reël. Sy vertel met groot oë en handgebare hoe sy regtig die karakter Marco moes klap toe hy haar om die bos gelei en sy neef die boereworskompetisie gewen het. “Al die sepies waarin ek gespeel het, was ’n ongelooflike nice ondervinding. Ek het so baie geleer. Ek het op ’n punt in my lewe gekom waar ek gevoel het ek wil myself wees, ek wil ’n verskil in mense se lewe maak.”

Haar werklike passie

Bonné het haar liefde vir die natuur by haar oupa en mentor, Willem Cilliërs, geërf. “My oupa is in sy hart ’n natuurbewaarder en ek was bevoorreg om as kind twee keer ’n jaar Krugerwildtuin toe te gaan. Oupa Willem ken bome, plante en diere se wetenskaplike name. Hoewel diere en die natuur altyd my eerste liefde was, het ek nie ná skool daaraan gedink om dit ’n beroepsrigting te maak nie.

Deur die loop van my skoolloopbaan wou ek verskeie rigtings inslaan. Ek het op laerskool klavier­begeleiding gedoen en het soos my ma, Amanda, later goed in sport gevaar. Dit was my droom om die 800m wedloop by die Olimpiese Spele te hardloop. My knie het egter ingegee en ek het met sepie­werk begin. My fokus is egter nou op die omgewing en natuurstories. Dit is wat ek regtig wil doen!”

Sy het in 2010 as veldaanbieder by 50|50 aangemeld en is sedert 2011 ook voltyds as navorser betrokke. Sy het in 2012 insetsels begin vervaardig. “Die vervaardigingsdeel is baie anders. daar is baie organiseringswerk agter die kameras: Die storie moet gesoek en die teks geskryf word. ’n Wye verskeidenheid vaardighede is hierby betrokke.

Een van die stories wat ek vanjaar vervaardig en aangebied het, was oor die baardaasvoël. Ek het dit ongelooflik baie geniet. Hierdie werk is my passie en ek wil niks anders doen nie!” Bonné is ook tans besig met ’n natuur­gidskursus wat FGASA (Field Guide Association of Southern Africa) aanbied. Sy is ’n selferkende adrenalienverslaafde wat al vir 50|50 in noue ondergrondse grotte rondgekruip het en ’n skubaduik-­kwalifikasie agter haar naam het.

Sy is glad nie bang om groot maatskappye oor onder meer hidrouliese rotsbreking en besoedeling aan te vat nie. “Bewaring is in my hart. Ek wil stories oor die omgewing en die natuur vertel op ’n manier wat mense dinge leer, maar dit moet ook opwindend en aanskoulik wees en vermaak. “Ek was al in baie gevaarlike situasies met wilde diere en ’n mens moet altyd besef hulle bly wild. Ek respekteer hulle. Natuurlik was ek al bang! Ek moes eenmaal in ’n ondergrondse tonnel op my rug seil. As ek bang is, doen ek ’n gebedjie. Ek voel dan veilig, want ek weet my ma en ouma bid saam.”

Interessante Stories

As omgewingsaktivis en natuurbewaarder is daar soms konfrontasiegeleenthede waar Bonné redelik ernstige vrae namens die gemeenskap vra.“Kwessies soos die voorgenome hidrouliese rotsbreking in die Karoo maak my emosioneel en kwaad. Ek verstaan daar is ’n energietekort, maar ons land word reeds deur ’n watertekort in die gesig gestaar. Dit help nie ons besoedel die water wat nog oor is nie.

“Die myne wat in die Magaliesberg prospekteer, is ook ’n teer saak. Ek wil ondersoek instel en weet wat gaan vir wat. Ek soek antwoorde, want ek soek resultate. Dit is hoekom dit belangrik is om opvolgstories te doen. Mense wat die program kyk, moet kan sien watter vordering gemaak word.”

Van die 50|50­stories wat haar na aan die hart lê, is ’n storie oor renosterstroping. “Daar is soveel renosters in 2012 dood. Ek doen ook praatjies hieroor. Persoonlik dink ek dis nie net ’n geval van meer sekuriteit nie. Dit is wel belangrik, maar ek dink die probleem is ook dat die aanvraag steeds so hoog is. Die Oosterse mans, veral, gebruik dit vir medisinale doeleindes en tog is dit wetenskaplik bewys dat dit nie werk nie. Daardie mans moet ’n kopskuif maak. Gaan ons biljoene mans se kultuur kan verander? Ja, ek glo so, maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Ek glo tog met genoeg onderrig sal ons dit kan doen.” Sy ondersteun dus die Rhino Reality Campaign heelhartig. Hulle is tans besigom geld in te samel om mense wat in die renosterhoringmite glo op opvoedkundige safari’s te vat sodat hulle self renosters kan sien.

Nóg ’n insetsel wat haar na aan die hart lê, is dié van Shadrack, ’n nederige man van Soshanguve. “Hy teken diereprentjies in die sand en maak dan beelde van daardie diere sonder dat hy hulle ooit in die regte lewe gesien het. Ons het hom vir ’n dag Pilanesberg toe gevat. Ek sal nooit sy gesig vergeet toe hy vir die eerste keer in sy lewe vlakvarke sien nie. Hulle was spelerig en hy kon nie uitgepraat raak oor die varkie se ‘aerieltjie’ nie! Hierna het hy ’n ongelooflike vlakvark uit skuim en polistireen gemaak. Dit was perfek, van die snorbaarde tot die detail by die oë.“

’n Ander storie wat my baie geraak het, was mense wat van ander se afval­produkte lewe. Ek het spesifiek een vrou naby Randfontein ontmoet wat nie eers ’n idee het hoeveel sy danksy herwinning tot die samelewing bydra nie. Dit was hartverskeurend om te sien in watter omstandighede mense bly.” Sy kan ook nie oor die belangrikheid van goedvoelstories uitgepraat raak nie, soos toe sy onlangs in Mosambiek saam met dolfyne gaan swem het om die tera­peutiese waarde daarvan te ondersoek

Bonné se boodskap

“Ek wil graag vir mense sê: ‘Waar dit die aarde aangaan, is daar nie ’n plan B of ’n planeet B nie. Dit is hoekom ek so vurig oor klimaatsverandering is. “Daar is al bewys die snaakse weer wat ons nou ervaar, is vir die natuurrampe soos tsoenami’s verantwoordelik. Ek wil as gewone mens ander inspireer en as rolmodel dien. As ek net ’n klein verandering kan maak, sal ek gelukkig wees,” vertel sy met ’n glimlag.

En Bonné voeg die daad by die woord. “Dis dalk ’n simpel voorbeeld, ek stort net drie minute en as ek hare was of tande borsel, maak ek die kraan tussendeur toe.” Sy het ook aparte houers vir glas­ en plastiekafval en probeer om nie rooivleis te eet nie. Sy moedig ook mense aan om op Maandae vleisvry te eet.

“Ek eet ook nie meer tuna nadat ek ’n storie gedoen het oor dolfyne, skilpaaie en ander seelewe wat in die nette vasgevang word wanneer die tuna uitgehaal word nie.” Die lys van “woorde wek, maar voorbeelde trek” is eindeloos: Sy eet net skrophoenders, maak seker sy eet die regte visspesies en koop net waspoeier wat nie fosfaat in het nie. Met so ’n toege­wyde omgewingsaktivis is daar hoop vir natuurkwessies.

Haar leuse? “Wees die verskil wat jy wil sien.”