Ek was nooit goed genoeg nie

Oorspronklik verskyn in Voelgoed in Februarie 2013.

bonne_de_bod

Bonne de Bod vertel hoe sy as kind en tiener “onsigbaar” was. Sy was nooit cool genoeg om regtig raakgesien te word nie. Sy het nooit kon dink wat God regtig met haar lewe beplan het nie.

 

Elke kind wil graag deel van die cool groep wees. Ek wou natuurlik ook, maar dit het vir my gevoel of my potensiaal nooit raakgesien word nie. Al het ek vir die eerste span hokkie gespeel, is ek nooit oorweeg as kaptein of onderkaptein nie. My naam was nie eers op die kortlys nie. Ek was maar net een van die massa en “onsigbaar”. Elke jaar het die Mnr. en Mej. Skoonheid- en Persoonlikheid-kompetisie gekom en gegaan. En elke jaar het ek gewens ek kon ook deelneem. Net een keer. Maar dit het nooit gebeur nie. Ek was eenvoudig nie cool genoeg nie.

Aan die einde van graad 11 is die volgende jaar se prefekte gekies. Ek het so gewens, gehoop. In die laerskool was ek ’n prefek – toe het dit oor leierseienskappe gegaan. In die hoërskool het populariteit baie meer getel, te veel vir my om ’n kans te hê. Sou ek ooit goed genoeg wees? Selfs op universiteit het hierdie swaard oor my kop gehang. Ek het B.Com. in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria gestudeer, maar glad nie daarin belangstel nie. Omdat ek so onseker oor myself was, het ek nie ’n idee gehad wat ek met my lewe wou doen nie. Niks het sin gemaak nie. In my derde jaar word ek toe gekies om modelwerk in Kaapstad te gaan doen. ’n Mens sou dink dit moes my anders oor myself laat voel, maar dit het nie. Geen sukses kon my oortuig dat ek oukei is nie. Tog was ek eintlik suksesvol. Ek was die gesig van FIFA se Wêreldbeker in Duitsland en het ook in Franse televisie-advertensies verskyn. Die selftwyfel het egter bly kleef.

Op universiteit het ek betrokke geraak by my koshuis se konserte … en daar, op die verhoog, het die dramagogga my gebyt. Dit, saam met die ondervinding wat ek as model opgedoen het, het my laat besluit om ’n diplomakursus in drama te voltooi. Ek het dit ’n saak van gebed gemaak en geglo die regte deur sou wel iewers vir my oopgaan. Iewers waar ek my talente kan gebruik om regtig ’n verskil te maak, waar ek mense kon inspireer. Een Sondag sit ek toe in die studentekerk in Kaapstad, en ek ervaar ’n gevoel van vrede soos nog nooit voorheen nie. Ek het besef niks is in my eie hande nie. Dit was tyd om te “let go and let God”.

Ek is nie spyt oor my lewenspad en lewenslesse nie – dit het my ’n baie sterker mens gemaak. Nooit in my wildste drome sou ek die lewe vir myself kon kies wat God vir my in gedagte gehad het nie. Ek is so geseënd. Niks waarmee ek nou besig is, was ooit deel van my eie plan nie. Om aanbieder van 50/50 te wees, gee my ’n platform om mense van belangrike kwessies bewus te maak, soos klimaatsverandering, watertekort, bewaring van renosters en nog baie meer. Daar is nog hope stories wat ek wil vertel, oor mense, oor die aarde, oor regverdigheid … oor inspirasie! Veral oor inspirasie. Ek wil ook goeie nuus bring, mense weer nuwe moed gee, hulle aanmoedig om ook hulle bes te probeer. Uit my eie ervaring het ek immers geleer dat absoluut enigiets moontlik is. Al wat jy moet doen, is om deel te raak van die Groot Plan van jou lewe. Jy hoef niks uit te dink nie – dis klaar vir jou gedoen! Die grootste fout wat enige mens kan maak, is om in die pad van jou eie sukses te staan. Elke mens is uniek en spesiaal. Jy ook.